AMOS Agrimin
BLOG

Sien jy die prentjie? Deel jy die visie?

Lees: Efesiërs 1:9-10 en Jakobus 1:22-25

’n Projek het ’n begin en ’n einde. Daarom is die naam Projek Amos in 2001 na Amos Agrimin verander. Elke plaas vir Christus is ’n blywende opdrag. Dit geld “tot die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:18-20). Amos Agrimin is ’n voortgaande bediening.

Die visie is ook later anders geformuleer. Elke plaas vir Christus is na Living and Farming God’s Way verander. Waarom? Omdat Elke plaas vir Christus deur baie mense verskraal is tot die redding van siele (terwyl die mens tog gees, siel en liggaam is – 1 Tessalonisense 5:23). Al die klem het op Christus as Verlosser geval terwyl Christus se koningskap nie tot sy reg gekom het nie (Lukas 6:46; 1 Korintiërs 15:25). Vir baie het AMOS ’n soort “kerk” geword. Hulle het spreekwoordelik nuwe wyn (AMOS se boodskap) in ou wynsakke (kerkstrukture en tradisies) gegooi. Dit werk nie. Living and Farming God’s Way is baie meer omvattend. Dit gaan oor hóé jy leef en hóé jy boer. Dit gaan oor die Koning en sý Koninkryk. Die Koninkryk sluit alles in: die kerk, landbou, politiek, wetenskap, tegnologie, gesondheid, onderwys, ens. Die wil van die Koning moet altyd oral uitgevoer word.

God se Koninkryk en Christus se heerskappy moet gesien kan word in die landbougemeenskap. Daarom beywer AMOS hom vir die transformasie van landbougemeenskappe in Afrika deur die herstel en bou van verhoudinge met God, mense en die skepping.

Omdat Christus nou reeds Koning is, en omdat God in staat is om deur sy krag wat in ons werk oneindig meer te doen as wat ons dink of bid (Efesiërs 3:20), …

Sien AMOS …

’n Stabiele landbougemeenskap …

gekenmerk deur gesonde huwelike en gelukkige gesinne waar pa’s en ma’s hulle unieke rolle verstaan en ook hulle verantwoordelikheid aanvaar en uitleef; waar kinders God’s Way grootgemaak en onderrig word (Efesiërs 6:1-4); waar hulle veilig en goed versorg is, gesond en gelukkig.

’n Gelukkige landbougemeenskap …

waar alle verhoudings gekenmerk word deur wedersydse respek en onderlinge liefde; waar mense mekaar help en ondersteun; waar konflik, geweld en misdaad nie mense se lewe en/of besittings bedreig nie; waar reg en geregtigheid teenoor almal geskied, selfs teenoor die heel armste mense.

’n Bemagtigde landbougemeenskap …

wat hulle taak, roeping en verantwoordelikheid verstaan; wat die kundigheid en basiese vaardighede het om voedselsekerheid, voedselsoewereiniteit, kwaliteit, verskeidenheid en bekostigbaarheid te verseker; wat deur hulle arbeid ’n positiewe en blywende verskil in hulle gemeenskap maak.

’n Verantwoordelike landbougemeenskap …

wat goeie rentmeesters is van alles wat hulle uit God se hand ontvang en wat daarmee rekening hou dat toekomstige geslagte ook nog dié hulpbronne gaan nodig hê.

’n Goed versorgde landbougemeenskap …

waar landbouers ’n regverdige prys vir hulle produkte ontvang; waar almal die vrug op hulle arbeid geniet (Deuteronomium 25:4; 1 Korintiërs 9:8-10); waar rykes nie te veel het en armes nie te min nie (2 Korintiërs 8:13-15).

’n Produktiewe landbougemeenskap …

wat hulle werk geniet en passievol daaroor is; wat daarna streef om hoë kwaliteit produkte te verbou en aan verbruikers goeie waarde vir geld te bied.

’n Kundige landbougemeenskap …

wat wetenskaplike kennis en tegnologie met integriteit gebruik, maar ook die kuns bemeester het om sinvol te lewe. ’n Landbougemeenskap wat weet dat die slimste ding om te doen altyd is om die Here te dien (Job 28:28; Psalm 111:10; Spreuke 1:7; Miga 6:9); wat lewenskunde (soos in Spreuke opgeteken) bemeester het, en nie nét wiskunde, aardrykskunde, veekunde, plantkunde, grondkunde of weerkunde nie.

’n Verenigde landbougemeenskap …

waar Christus die Hoof oor alles en almal is (Efesiërs 1:10); waar eenheid en versoening sigbaar word in huwelike, gesinne, kerke, arbeidsverhoudinge en landbou-organisasies (Efesiërs 2:11-22); waar mense ander se belang eerste soek, net soos Christus ons belang eerste gesoek het (Filippense 2:3-8). ’n Landbougemeenskap waar almal hulle opdragte van die Hoof ontvang en gewillig is om van harte gehoorsaam te wees.

’n Geesvervulde landbougemeenskap …

wat nie net in Christus as hulle Verlosser glo nie, maar wat ook 24 uur van elke dag volledig onder die beheer van die Heilige Gees lewe (Romeine 8:9; Galasiërs 5:25); vir wie Living and Farming God’s Way nie net ’n slagspreuk is nie, maar ’n lewensstyl.

Dink na en reageer:

Die formulering van die visie en missie het verander, maar die kern het presies dieselfde gebly. Vormgodsdiens, materialisme (met al sy vrot vrugte van gierigheid, selfsug en korrupsie), sosiale onreg en vertroue op politieke stelsels en sisteme móét aangespreek word. Christus is die enigste Verlosser en moet 24/7 as Koning oor jou hele lewe heers. Hy moet ook in landbou heers!

AMOS se visie móét altyd aan dié vereiste voldoen: “So sê die Here.” Daar is nie plek vir eie visies en die najaag van selfsugtige drome nie. Die visie moet altyd in lyn met God se Woord wees. Mag die Heilige Gees ons help om dit te doen.

Die AMOS-droom moet ’n werklikheid word. Dáárom moet dit neergeskryf en verduidelik word. Dit moet sigbaar wees sodat mense daaroor kan praat (Vgl. Habakuk 2:2). Net mense in wie se hart dié droom leef, mense wat dit in die Gees kan sien, sal dit ’n werklikheid maak. Leef die AMOS-droom in jóú hart? Is dit ’n werklikheid in jou lewe?

God roep jóú!

Gebed:

  • Gee opnuut aan Christus die reg om oor jou hele lewe te regeer.
  • Praat met die Here oor die visie: Living and Farming God’s Way. Vra vir Hom wat jy moet doen om dit uit te leef.
  • Bid dat die AMOS-visie ook in die volgende generasie boere (en dit sluit werkers in) se harte sal leef.

Bid vir Afrika: Fokus vandag op Lesotho.

Vra dat God sy spesifieke plan vir landbou in Lesotho deur sy Woord en Gees aan boere bekend sal maak. Proklameer Living and Farming God’s Way oor landbou in Lesotho.

Read and reflect

Amos, die boer, sê 40 keer: Só sê die Here!

Amos was ’n boer vóór, terwyl en nadat hy as profeet opgetree het. Hy het sy hoorders 40 keer daaraan herinner dat wat hy sê, is wat God gesê het.

Die begin van die AMOS-storie

Die jaar 1993 was droog, donker en onseker. Maar in sulke onseker tye roep God steeds mense om uitvoering aan sy hartsbegeerte te gee. Só het AMOS met ’n geskenk van R50 begin.