Lees: Amos 3:7
Die naam AMOS het die Here met die opening van die bankrekening gegee. Amos was ’n boer vóór hy as profeet die wil van die Here bekend gemaak het. Hy was ’n boer terwyl hy as profeet opgetree het. Nadat hy as profeet opgetree het, was hy steeds ’n boer. Hierdie boer-profeet het sy hoorders 40 keer daaraan herinner dat wat hy sê, is wat God gesê het. Hy het nie probeer om polities korrek te wees nie (Amos 7:10-17). “Só sê die Here” was sy enigste boodskap.
Amos het hoofsaaklik teen vier sake geprofeteer:
- Uiterlike vormgodsdiens. Godsdienstige rituele en reëls was vir mense belangriker as ’n lewende, intieme liefdesverhouding met God (Lees Amos 3 tot 5, en let op 5:21-27; vgl. ook Deuteronomium 6:4).
- Materialisme. Geld en goed het vir mense belangriker as God geword. Dit het hulle god geword.
- Sosiale onreg. Vormgodsdiens en ’n liefde vir geld (materialisme) is die ideale teelaarde vir sosiale onreg. Daarom is mense verontreg, verdruk en uitgebuit.
- Valse vertroue in die politiek van die dag. Dit was ’n tyd van politieke stabiliteit en die volk het geglo hulle is veilig. Hulle het hulle afhanklikheid van God verloor.
Al hierdie sake is vandag nog net so relevant. Soos Amos, moet ons steeds standpunt inneem en sê: Só sê die Here!
Terug by die opdrag op 13 Augustus 1993:
- Elke plaas vir Christus.
- Werkgewers en werknemers; mans, vroue en kinders.
- Rus mense toe om kinders effektief te bedien.
- Christen-landbouskole.
Wat behels die opdrag?
Hoe ons dit ook al verwoord, die kern bly dieselfde:
- Almal op elke plaas moet met die hart glo en met die mond bely dat Christus hulle Verlosser én Koning is (Romeine 10:9)! Wie Christus nie ken nie, is geestelik dood en het nie die ewige lewe nie (Efesiërs 2:1-3 en 12; Johannes 17:1-3; 1 Johannes 5:11-13). Almal moet genoeg hoor om ’n ingeligte besluit vir of teen Christus te maak. “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan” (Handelinge 17:30-31; vgl. Matteus 18:14; 1 Timoteus 2:3-6; 2 Petrus 3:9). In Matteus 18:14 sê Jesus spesifiek dat God ook álle kinders wil red. Maar hoe kan mense glo as hulle nie hoor nie? En hoe sal hulle hoor as niemand hulle vertel nie (vgl. Romeine 10:9-15)? Dis elke Christen in landbou se taak en roeping om vir ander van Christus te vertel.
- God se boer, saam met God se mense, op God se grond, tot God se eer. Wat beteken dit?
God se boer: God besit jou. Hy het jou gekoop teen ’n baie hoë prys (1 Petrus 1:18-19). Jy kan nie doen wat jý wil nie (1 Korintiërs 6:19-20; Galasiërs 5:16-18). Jy is in God se diens. Jy moet help om alles en almal onder een Hoof te verenig (Efesiërs 1:10). Jy moet sý raad vra en sý toestemming kry vir alles wat jy op sý plaas wil doen. Jy moet ’n verhouding met God hê.
Saam met God se mense: Jy moet ’n verhouding met Jesus Christus hê, maar almal wat by jou bly en saam met jou werk, moet óók ’n verhouding met Hom hê. Julle moet die Here sáám dien, aanbid en Nagmaal vier. Wanneer julle mekaar liefhet en dien, sal die wêreld glo dat God Jesus vir ons almal gestuur het (Johannes 13:35 en 17:20-23; Efesiërs 2:11-22).
Op God se grond: Alle grond behoort primêr aan die Here (Levitikus 25:23). Jou kaart en transport maak jou die sekondêre eienaar (Jeremia 32:1-25). Dit maak jou slegs rentmeester van God se grond. Jy het ’n verantwoordelikheid op die grond en ook teenoor die grond. Jy kan nie op die grond doen wat jy wil nie, want deur Christus het God ook die grond met Homself versoen (Kolossense 1:19-20).
Tot God se eer: Jou hele lewe en al jou boerderypraktyke moet God eer (1 Korintiërs 10:31). “Living and Farming God’s Way” moet jou hartsbegeerte en jou doelgerigte strewe wees.
Dink na en reageer:
- As jy nog nie ’n Christen is nie, wil God hê jy moet een word. As jy rééds ’n Christen is, wil Hy hê jy moet vir almal wat saam met jou op die plaas woon en werk, van Jesus vertel.
- Amos Agrimin se boodskap is nog dieselfde. Vormgodsdiens, materialisme, sosiale onreg en ’n vals vertroue op politici en/of politieke stelsels is euwels waarteen ons steeds moet veg. Die Here praat daaroor. Jy móét ook daaroor praat!
- Elke plaas vir Christus het alles te doen met jou redding, maar óók met jou aanvaarding van Jesus Christus se gesag as koning oor jou hele lewe.
- Jy is deur God geroep! Jy kan net JA of NEE sê. Ek bid dat jy JA sal sê.
Gebed:
- Praat met die Here oor dié sake waaroor Hy deur die profeet Amos met ons praat. Luister wat die Gees vir jou sê.
- God se boer, saam met God se mense, op God se grond, tot God se eer! Vra dat die Here aan jou sal openbaar wat dit beteken.
- Bid vir almal wat saam met jou woon en werk se bekering. Dit is God se wil (Handelinge 17:30-31; Matteus 18:14; 1 Timoteus 2:3-6; 2 Petrus 3:9).
Bid vir Afrika: Fokus vandag op Suid-Afrika.
Vra dat God sy spesifieke plan vir landbou in Suid-Afrika deur sy Woord en Gees aan boere bekend sal maak. Proklameer Living and Farming God’s Way oor landbou in Suid-Afrika.
- Filed under: Uncategorised