AMOS Agrimin

DEVOTIONALS

Featured series

Dek die tafel vir herlewing

Tafelgebede word ongelukkig dikwels afgewater tot kort rympies sonder inhoud. Die tafelgebede in hierdie Gebedsfokus op die Landbou gee jou die geleentheid om gedurende die ete met jou kinders oor die inhoud daarvan te gesels.

Ek gló dat ons deur kort, doelgerigte gebede aan tafel, die koms van die Koninkryk op plase en in die platteland kan bevorder. – Hennie Viljoen

50 daysPrayer

Continue devotional

Topics/ Series

Day 29Landbouleiers

Here Jesus, U is vir ons dié voorbeeld van goeie leierskap. U het nie aan Uself gedink nie. U het gedink aan dít wat ons nodig gehad het. U het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. U het met u lewe betaal om ons los te koop van die vloek waaronder ons geleef en gebore het (Deuteronomium 28:15-68; Romeine 15:1-3; Filippense 2:3-4; Markus 10:45). U het die vloek op Uself geneem. U was bereid om 'n vervloekte te word, sodat ons geseënd kan wees (Galasiërs 3:13-14). U het alles wat U deur u volkome gehoorsaamheid aan die Vader verdien het (die seën) vir ons gegee in ruil vir alles wat ons deur ons ongehoorsaamheid verdien het (die vloek).

Wees U asseblief ons leier. Seën ons met leiers soos Uself: Diensknegleiers wat die platteland se probleme oplos, en die lewe vir almal in die boerderygemeenskap beter maak.

Bid nou jou eie tafelgebed ...

Day 30Landbouleiers

Here Jesus, ons aanbid U as ons Koning. U regeer in die hemel en op die aarde. Alle mag en gesag behoort aan U: U is sterker as mense; Sterker as alle demoniese magte en sterker as alle kragte wat in hierdie wêreld aan die werk is – nou en in die toekoms. U sal regeer totdat al u vyande aan U onderwerp is. Halleluja, ons loof U! (Efesiërs 1:19-23; 1 Korintiërs 15:25; Hebreërs 10:13). Dankie vir die voorreg om in hierdie tyd te leef. Die tyd van u Koninkryk. Die tyd waarin U, ons Koning, reeds op die troon sit.

Ons proklameer: Jesus Christus heers oor die landbou. Sy heerskappy sal gedurig uitbrei. Hy sal oor meer mense en op meer plekke heers! Hy sal sy Koninkryk vir altyd deur reg en geregtigheid in stand hou. "Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg" (vgl. Jesaja 9:6; Matteus 6:10).

Bid nou jou eie tafelgebed ...

Day 31Landbouleiers

Ons aanbid U, Here Jesus. U is die Koning van Landbou. U Koninkryk kom in die Landbou. Al hoe meer landbouers erken en aanvaar dat U ons Verlosser én ons Koning is.

U troon is gebou op reg en geregtigheid. Die fondasie van u regering is reg en geregtigheid (Psalm 96:13; 97:2; 98:9 en 99:4). "U sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg" (Jesaja 9:6). U bewys liefde, reg en geregtigheid op aarde. Dít is wat U wil hê (Jeremia 9:23-24; Amos 5:21-24).

Daarom proklameer ons: Op elke plaas en in elke plattelandse gemeenskap sál onreg uitgeroei word. Liefde, reg en geregtigheid sál sigbaar word. U wil sál geskied! U Koninkryk wat deur reg en geregtigheid gekenmerk word, sál kom.

Bid nou jou eie tafelgebed ...

Day 32Landbouleiers

Vader, Dawid het al as jong seun sy vader se skape met integriteit (opregte hart) versorg. Hy het hulle met vaardigheid beskerm. Hy was getrou oor min. Daarom het U hom geroep om u hele volk te lei. Dít het hy met dieselfde integriteit en vaardigheid gedoen as waarmee hy skape opgepas het (Psalm 78:70-72).

Ons proklameer: Dit is u wil dat landbou óók deur mense met integriteit en vaardigheid gelei word.

Verlos ons asseblief van onbetroubare, onkundige en onbekwame leiers. Seën ons met leiers wie se hart onverdeeld op U gerig is. Leiers wat begeer dat ú Woord, ú wil en ú plan in landbou verwesenlik word. Help en ondersteun hulle om te doen wat U gedoen wil hê (2 Kronieke 16:9).

Bid nou jou eie tafelgebed ...

Day 33Landbouleiers

Here, in Eksodus 18:17-23 lees ons van die goeie raad wat Moses se skoonpa aan hom gegee het. Hy het gesê dat een mens alleen nie 'n groot volk effektief kan regeer, leer en lei nie. Leiers op verskillende vlakke is nodig. Maar hy het gesê almal moet die volgende karaktereienskappe hê:

  • álmal moet bekwaam wees;
  • álmal moet U dien;
  • álmal moet die waarheid liefhê, en
  • nie hulle eie voordeel soek nie.

Here Jesus, seën ons asseblief met sulke leiers in die landbou en op die platteland. Ons het hulle oral nodig: in elke kantoor van die Departement van Landbou; op elke vlak van georganiseerde landbou; in elke dorp en munisipaliteit en op elke plaas. Dít ís u wil vir ons. Laat u wil op aarde en in die landbou geskied, soos in die hemel.

Bid nou jou eie tafelgebed ...

Day 34 TodayLandbouleiers

Vader, dankie dat u Gees ons deur die Woord leer hoe om oor leierskap te dink en hoe om vir ons leiers te bid.

In Romeine 13:1-8 sê U dat die owerheid twee verantwoordelikhede het: Hulle moet dié wat goed doen, prys, maar dié wat kwaad doen, straf. Ons bid dat hulle wat in landbou oor ons regeer, presies dít sal doen. Bewaar hulle van die versoeking om, soos die wêreld, sleg goed te noem en goed sleg; om te maak asof lig duisternis is en duisternis lig; om bitter soet te noem en soet bitter (Jesaja 5:20). Gee aan ons leiers die fyn onderskeiding tussen wat goed en wat sleg is. Wat reg en wat verkeerd is in u oë. Laat hulle erkenning gee aan boere wat doen wat reg is. Laat hulle dié boere op meriete ondersteun en help. Mag hulle nooit deur die kwaad in landbou en in die voedselwaardeketting oorwin word nie. Maar laat hulle die kwaad met die goeie oorwin (Romeine 12:21).

Bid nou jou eie tafelgebed ...

Day 35Landbouleiers

Here ons God, die kennis en wysheid om die regte ding op die regte manier op die regte tyd te doen, kom van U af. Dit is kosbaar en laat alles voorspoedig verloop (Jesaja 28:23-29). Mag landbou- en ander leiers op die platteland 'n intieme verhouding met U hê. Gebruik hulle lewenservaring. Gee ook vir hulle 'n nuwe openbaring hoe om vandag die regte ding op die regte manier te doen. Gee asseblief vir ons leiers wat nie bang is vir verandering nie. Leiers wat nie kleef aan metodes, stelsels en sisteme wat lankal uitgedien is nie.

Ons proklameer: U wil aan elke landbouer en elke leier die wysheid en kennis gee hoe om die regte ding op die regte manier en op die regte tyd te doen. U wil hê alles moet reg en voorspoedig loop. Daarom sál leiers leer om fyn te luister en u stem mooi te onderskei.

Bid nou jou eie tafelgebed ...