AMOS Agrimin
BLOG

Die begin van die AMOS-storie

Die visie van AMOS AGRIMIN

God het sý wil bekend gemaak!

Spreuke 29:18 stel dit duidelik: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk.” Visie is belangrik. Óók vir jou en vir landbou. Ons moet weet waarheen ons op pad is. Daarom beveel die Spreukedigter sy lesers: “Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers” (Spreuke 4:25-27).

Die wil van die Here móét bekend gemaak word. Indien dit nie gebeur nie, ontstaan chaos. Dan doen elkeen wat reg is in sy eie oë (Rigters 21:25). Die tyd waarin ons leef word gekenmerk deur chaos. Dáárom is dit tyd om ’n visie vir landbouers en die landbou te formuleer. Maar die visie kan nie iets wees wat óns graag wil bereik nie. Dit gaan nie oor ons wil nie, maar sý wil. Nie oor ons koninkrykies nie, maar sý Koninkryk. Koninkryk-boere móét medewerkers van die Koning wees. Die Koning maak sy wil en begeerte bekend, en ons moet sê: “Amen – só sal dit wees!” Die Koning sê wat Hý gedoen wil hê, en ons spring aan die werk. Die Koning het ’n goeie plan vir landbou. Hy het ’n skeppingsdoel vir elke landbouer. Die vraag is: Wat is God se plan en hoe werk ons saam met Hom om dié plan uit te voer? Ons hoef nie te raai nie. God het lankal besluit om nie langer sy wil geheim te hou nie, maar om dit op die regte tyd aan ons bekend te maak:

Alles Onder Een Hoof

Jesus Christus, dié Verlosser en Koning!

(Vgl. Efesiërs 1:9-10; 1:22; 4:15)

Op 13 Augustus 1993 het God vir ons gesê hoe ons by die uitvoering van sý wil betrokke moet raak! Nou, meer as 33 jaar later, sê ons steeds:

Aan God al die lof, dank en eer!

Lees: Amos 1:1; 3:7; 7:14-15; Psalm 115:1

Die jaar 1993 was droog, donker en onseker. Daar was groot politieke verdeeldheid, veral onder blankes. Dit was die doodsnikke van Apartheid en die vooraand van die eerste algemene demokratiese verkiesing in Suid-Afrika op 27 April 1994.

Maar in sulke onseker tye roep God steeds mense om uitvoering aan sy hartsbegeerte te gee. In Meimaand, op my 34ste verjaarsdag, het oom Beukes Willemse vir my R50 gegee. Ek was dankbaar. Tog het ek gewonder waarom hy my nét R50 gegee het, want hy kon baie meer bekostig. Hoe meer ek teen dié gedagte in opstand gekom het, hoe meer het ek daaraan gedink. Die gedagte het my so “gepla” dat ek vir die Here gevra het wat ek met die R50 moet doen. “Open ’n bankrekening met die naam Projek Amos daarmee”, het ek in my gees gehoor. God was besig om iets aan my te begin openbaar (Amos 3:7). Waarom die naam Amos? Amos was ’n profeet én ’n boer (Amos 1:1 en 7:14-15).

Op Vrydag 13 Augustus 1993, op die plaas Swartwater in die Memel-distrik in die Oos-Vrystaat, het God sy hart vir die landelike en boerderygemeenskap met ons gedeel. Ek en my vrou Janetta, Allan Liddle en drie boere (Tredoux Willemse, Vincent Prinsloo en Niekie Cronjé) het dié dag saam gebid. Ons het alles neergeskryf wat ons glo ons by die Here gehoor het.

  • Elke plaas vir Christus.
  • Werkgewers en werknemers; mans, vroue en kinders.
  • Rus mense toe om kinders effektief met die Evangelie te bedien.
  • Christen-landbouskole.

Met ’n vaste geloof in ons hart dat ons God reg gehoor het, het ons ongeveer drie weke later na mnr. Mike Hagemann van SmithKline Beecham Dieregesondheid in Midrand gery, sonder verwysings, sonder CV’s of bewyse dat ons reeds iets gedoen het. Ons het hom ook van geen kant geken nie, maar ons het gehoor dat hy die Here opreg liefhet en dien. God het die afspraak “gereël”. Ons het gedeel wat ons glo die Here vir ons gesê het. Twee ure later het ons saam gebid en ons is daar weg met Mike Hagemann se woorde wat in ons koppe maal: “Die Gees van die Here wat in julle is, maar ook in my woon, getuig in my hart dat dié saak wel van die Here is. Ek sal kyk wat ek kan doen.” ’n Maand het verbygegaan. Stilte. Op ’n Vrydagoggend teen die einde van September het die telefoon om 11:30 gelui. Mnr. Hagemann het eers die maatskappy se uitdagings geskets teen die agtergrond van die politieke en ekonomiese onsekerheid in die land. Maar toe gaan hy voort: “Ons kan julle net R75 000 gee om Projek Amos mee te begin. Ons sal ook die eerste seminaar met ’n verdere R1 000 borg.” God het ’n aanvangswonder gedoen! In vier maande se tyd het Hy die R50 vermenigvuldig tot R76 000. Sedert daardie dag weerklink Psalm 115:1 in my ore elke keer as ek aan die geboorte en groei van AMOS dink: “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.” God het bevestig dat ons Hom reg gehoor het. In geloof en gehoorsaamheid móés ons die AMOS-pad begin stap.

Die eerste AMOS-seminaar is van 5-7 November 1993 by Aan de Vliet naby Hazyview gehou. Net ’n paar mense het dit bygewoon. My ouers, Dickie en Mieta Viljoen, wat pas afgetree het, was ook daar. Op dié seminaar het die Here hulle geroep om ons voltyds te kom help om Projek Amos van die grond af te kry. Die vrug van hulle betrokkenheid in daardie eerste 10 jaar is onmeetbaar! Tot en met hulle dood jare later, was hulle getrou aan die roeping wat hulle in November 1993 ontvang het.

Waarom vertel ek die storie?

Dink na en reageer:

  • God roep vandag steeds mense vir spesifieke take. Jongmense en oumense, mense met geld en mense sonder geld. Gewone mense! Boere en sakemanne! God roep mense soos jy! (Lees 1 Korintiërs 1:26-31)
  • God roep boere! Daar is baie voorbeelde daarvan in die Bybel: Noag, Abraham, Gideon, Dawid (2 Samuel 7:8; Psalm 78:70-72) en Amos (Amos 1:1 en 7:14-15). Dit beteken nie noodwendig jy moet ophou boer om aan God gehoorsaam te wees nie. Jou roeping is waarskynlik in die landbou, want God se Koninkryk moet ook in die landbou kom. Amos het as profeet opgetree terwyl hy geboer het!
  • Almal wat die Here roep, voel gewoonlik onbekwaam om sý opdrag uit te voer. Maar dit is nie ’n verskoning om ongehoorsaam te wees nie. Jou gevoel van ek kan nie dwing jou om op God te vertrou en nie op jouself nie. Dit dwing jou om God te glo, en nie net ín Hom te glo nie. Dit dwing jou om alle lof en eer aan Hom te gee en nie op jouself te roem nie. Jou gevoel van onbekwaamheid maak jou waarskynlik juis die beste kandidaat vir die taak. Jy mag hulp vra, maar jy mag nie jóú roeping op iemand anders afskuif nie.
  • God roep mense gewoonlik deur sy Woord en bevestig dan dié roeping met ’n unieke gebeurtenis. As jy dink dat die Here jou vir ’n spesifieke taak roep, vra Hom om vir jou ’n aanvangswonder te doen. ’n Wonderwerk wat jou altyd sal oortuig dat jou roeping van Hom af kom, en nie iets is wat jy sélf uitgedink het nie. (Dink aan die tekens en wonders wat God reg aan die begin van die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän gedoen het. Dink aan Gideon in Rigters 6 en 7. Dink aan die begin van Jesus en Paulus se bedienings, die begin van die kerk op Pinksterdag, ens. Daar is talle voorbeelde van aanvangswonders in die Skrif.)
  • Jy is deur God geroep! Jy kan net JA of NEE sê. Ek bid dat jy JA sal sê.

Gebed:

  • Loof, prys en dank die Here dat Hy geboorte aan Projek Amos, nou bekend as Amos Agrimin (Agrimin = Agricultural Ministry) gegee het.
  • Bid vir almal wie se lewe die Here oor meer as dertig jaar deur dié bediening aangeraak het. Bid dat elkeen getrou sal bly aan sy of haar roeping.
  • Vra dat die Here spesifiek met jou oor jóú roeping sal praat.

Bid vir Afrika: Loof die Here vir die koms van sy Koninkryk in landbou in Afrika.

Read and reflect

Sien jy die prentjie? Deel jy die visie?

’n Projek het ’n begin en ’n einde, maar Elke plaas vir Christus is ’n blywende opdrag. Waarom die visie later Living and Farming God’s Way geword het, en wat AMOS sien.

Amos, die boer, sê 40 keer: Só sê die Here!

Amos was ’n boer vóór, terwyl en nadat hy as profeet opgetree het. Hy het sy hoorders 40 keer daaraan herinner dat wat hy sê, is wat God gesê het.