DEVOTIONALS
Devotionals
Featured series
Dek die tafel vir herlewing
Tafelgebede word ongelukkig dikwels afgewater tot kort rympies sonder inhoud. Die tafelgebede in hierdie Gebedsfokus op die Landbou gee jou die geleentheid om gedurende die ete met jou kinders oor die inhoud daarvan te gesels.
Ek gló dat ons deur kort, doelgerigte gebede aan tafel, die koms van die Koninkryk op plase en in die platteland kan bevorder. – Hennie Viljoen
50 daysPrayer
Continue devotional
Topics/ Series
Day 1Alle kos is goed

Gees van God, U "sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. ... Hulle verbied mense om te trou en bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak sodat dié wat glo en tot kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig" (1 Timoteus 4:1-5). Daarom loof en prys ons U vir alle kos. Ons dank U vir die groot verskeidenheid wat U geskep het en dat dit alles goed is (Kyk wat voor die koms van die wet geëet is: Genesis 1:29 en 9:3).
Here ons God, leer ons asseblief om nie die goeie kos wat U ons gee, te mors of weg te gooi nie. Leer ons om by elke ete erkenning aan U te gee. Om met dankbare harte te verklaar dat U gesê het ons kos is heilig en goed.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 2‘n Gawe om te geniet

Vader, ons dek ons tafels met heerlike kos en drank elke keer as ons iets vier: geboortes, verjaarsdae, huwelike of huweliksherdenkings; 'n goeie oes of 'n suksesvolle jaar; vriende wat kom kuier of kinders wat presteer. Kos en drank maak ons lewe lekker, ten spyte van ons harde werk.
Ons proklameer: Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ons besef dis 'n gawe uit u hand. Niemand kan 'n feesmaal geniet as U dit nie moontlik maak nie (vgl. Prediker 2:24-25).
Heilige Gees, help ons om die goedheid van God om hierdie tafel te sien en te proe (Psalm 34:9). Maak ons dankbaar vir die voorreg om kos te hê en dit te kan geniet. Ons bid ook vir almal wat nie vandag dié voorreg het nie. Gee deur ons hand aan hulle, en sorg U asseblief weer vir ons.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 3Moenie God vergeet nie

U sê: "Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet ... nie" (Deuteronomium 8:10-11).
Ons dank U vir die goeie land wat U aan ons gegee het. Ons dank U vir almal wat vir ons kos produseer. Ons vra dat U ons almal sal seën.
Ons vra ook dat die voorspoed en oorvloed waarmee U ons seën, nie die begin van ons einde sal wees nie (vgl. Ussia in 2 Kronieke 26:10 en 16). Laat ons nie hoogmoedig, verwaand, eiesinnig en ongehoorsaam word wanneer ons ryk word en rustig in groot huise bly nie. Laat ons onthou dat dit U is wat aan ons die vermoë gegee het om rykdom bymekaar te maak. Dit is U wat ons verlos het en 'n verbond met ons gesluit het om ons God te wees, en ons te seën (Deuteronomium 8:10-20).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 4Visie

U sê in Habakuk 2:2 dat ons die visie en openbaring wat U gee, moet neerskryf sodat mense daarmee kan hardloop. Daarom bid ons dat al hoe meer mense met die visie "Living and Farming God's Way" sal begin hardloop. Gee dat Living and Farming God's Way groter en groter momentum sal kry. Laat ook die geslagte wat kom, met dié visie hardloop totdat Living and Farming God's Way die uitstaande kenmerk van mense dwarsoor Afrika is. Mag u Woord die fondasie van elke nuwe generasie wees. Mag hulle deur u Gees inspireer word om elke dag van die week, die hele dag (24/7) tot u eer te lewe en te boer.
Omdat dit U wil is, proklameer ons: Ons sál sien hoe Living and Farming God's Way 'n werklikheid in Afrika word. Mense sál passievol oor die visie praat en doelgerig daarmee hardloop. Dit sal nié net 'n slagspreuk wees nie, maar 'n lewenswyse.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 5Visie

Here God, in Matteus 13 (vers 44-46) leer U ons die waarde van u Koninkryk. Dit is die moeite werd om alles op te offer en prys te gee ter wille daarvan. U Koninkryk moet op elke plaas en in elke plattelandse gemeenskap sigbaar en aantreklik word. Daarom bid ons vir die herstel en bou van elke gemeenskap se verhouding ...
- met U, die enigste ware God;
- met alle mense, en
- met u skepping.
Herskep mense en maak hulle nuut (2 Korintiërs 5:17-18a). Skenk wedergeboorte en bring mense tot bekering. Laat hulle mekaar opbou en volwasse word in Christus (Efesiërs 4:11-16). Ons bid vir liefde, eenheid en samewerking tussen mense. Ons vra vir gesonde huwelike en gelukkige gesinne. Ons bid dat almal goeie rentmeesters van hulle grond sal wees en dat hulle kwaliteit kos op volhoubare maniere sal produseer.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 6Visie

Vader, u Woord leer ons dat U deur die bloed van u Seun aan die kruis álles op die aarde en in die hemel met Uself versoen het (Kolossense 1:19-22). Alles sluit die land (grond), landbou en landbouers in. Ons bid dat hierdie versoening wat Jesus reeds bewerkstellig het, deur kommersiële- en kleinboere; werkgewers en werknemers; mans, vroue en kinders aanvaar sal word (2 Korintiërs 5:20-21). Laat elkeen in sy hart glo en met sy mond getuig dat Jesus die Here is en dat U Hom uit die dood opgewek het (Romeine 10:9-10). Laat elkeen wat Jesus hulle Here noem, Hom altyd en in alles gehoorsaam (Lukas 6:46).
Laat Landbou die knie voor Christus buig. Laat die grond weer juig omdat u kinders volgens u wil daaroor heers. Mag die versoening van álles met Uself nie net 'n geestelike waarheid bly nie. Laat dit ook 'n sigbare werklikheid word.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 7Visie

Dankie Vader, U het u wil aan ons bekend gemaak. Daarom proklameer ons: U wil alles en almal onder één Hoof bymekaar bring. Dié Hoof is Jesus Christus die Here (Efesiërs 1:9-10 en 4:15-16).
Onder Jesus se heerskappy verander alles: Van die vrugbaarheid van ons grond tot die voedingswaarde van ons kos; Van die landbou-ekonomie tot arbeidsverhoudinge; Van ons gesondheid tot die manier waarop ons die hulpbronne wat U aan ons toevertrou het, gebruik. Waar Christus heers is daar vrede en voorspoed. Dáár geskied reg en geregtigheid (Psalm 97:2). Dáár word die hemel op aarde sigbaar. Dáár kom herlewing!
Ons proklameer: U ruk steeds mense uit die mag van duisternis en plaas hulle onder die heerskappy van u geliefde Seun (vgl. Kolossense 1:12-14).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 8Arbeiders vir die oes

Here Jesus, U het gesien dat die mense op plase en in die platteland moeg en hulpeloos was. Hulle was soos skape sonder 'n herder. Dit het U emosioneel geraak. U het hulle innig jammer gekry (Matteus 9:35-36). Dit is vandag nog so! Die geestelike en fisiese nood, die armoede en ellende op die platteland breek ons hart. Daarom doen ons wat U u dissipels beveel het (Matteus 9:38): Ons vra in u Naam dat die Vader, deur die werking van die Heilige Gees, mense sal stuur om die evangelie van die Koninkryk op elke plaas en in elke dorpie te verkondig. Ons vra dat U saam sal getuig deur tekens, wonders en kragtige dade te doen (vgl. Hebreërs 2:4).
Terwyl U ons nou voed met heerlike kos, voed asseblief die mense op plase en in die platteland met die Brood van die Lewe (Johannes 6:35). Dit is u wil en begeerte. Ons dank U dat U ons altyd verhoor wanneer ons vra wat U graag wil gee.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 9Arbeiders vir die oes

Jesus, U het soos 'n koringkorrel in die grond geval en gesterf om 'n groot oes op te lewer (Johannes 12:19 en 24). U het ons beveel om die Here aan wie die oes behoort te vra om arbeiders vir die oes te stuur (Matteus 9:38; I Korintiërs 6:19b-20a; 1 Petrus 1:18-19). Daarom vra ons in u Naam: Vader, stuur u hele kerk om die oes in te samel. Stuur elke gelowige op elke plaas en in elke dorpie. Laat almal uitvoering gee aan die opdrag van Paulus aan Timoteus: "Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne (en vroue) wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer" (2 Timoteus 2:2). Vermenigvuldig asseblief u getuies in die landbou en op die platteland.
Ons bevestig wat u Woord sê: "Elkeen wat glo, sal praat" (2 Korintiërs 4:13). Laat elkeen hul geloof met ander deel, sodat herlewing kan kom.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 10Arbeiders vir die oes

Here Jesus, U ken die nood van kinders. Baie se name is nog nooit voor u troon genoem nie. Baie het geen ervaring van 'n Pappa wat omgee nie. Baie se ouers is ongeletterd. Baie gaan nie skool nie en kan nie lees nie. Baie word geminag en beleef verwerping.
Maar U herinner ons daaraan dat wat ons aan kinders doen, doen ons ook aan U (Matteus 18:5; vgl. ook 25:40 en 45). In Matteus 18:14 sê U ook: "So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie."
Sal U asseblief arbeiders stuur om die groot oes onder kinders in te samel. Hulle is so ontvanklik vir die waarheid. Ons bid ook vir hulle ouers en kerkleiers: Gee aan hulle almal u hart vir kinders (Markus 10:13-16). Rus hulle toe om kinders effektief te bedien. Help ook die kinders om mekaar na Jesus te lei.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 11Arbeiders vir die oes

Vader, in elke gemeenskap het U apostels, profete, evangeliste, herders en leraars met 'n baie spesifieke doel gegee (Efesiërs 4:11-16). U het ook gelowiges in die samelewing geplaas – gewone mense wat U liefhet en gehoorsaam. Mense wat nie skaam is om by die werk met ander oor U te praat nie. Mense wat, sonder betaling, die sout en die lig vir die wêreld is (Matteus 5:13-16). Ons dank U vir elkeen van hulle. Gee vir elkeen 'n liefde vir u Woord, sensitiwiteit vir u stem en 'n onbesproke karakter (1 Timoteus 3:1-5).
Vul elkeen met die krag van die Heilige Gees om 'n betroubare getuie vir U te wees (Handelinge 1:8). Laat die vrug van u Gees in elkeen se lewe sigbaar wees. Laat elkeen die gawes van die Gees, in ooreenstemming met die vrug van die Gees, gebruik om u liggaam, die Kerk, op te bou (Galasiërs 5:22; 1 Korintiërs 12 tot 14).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 12Verlossing en bevryding

Here ons God, laat ons almal asseblief verstaan wat U reeds vir ons gedoen het.
Jesus het reeds met ons geruil: Hy het die straf vir ons sonde gedra (Jesaja 53). Hy het in ons plek 'n vervloekte geword (Galasiërs 3:13). U het ons reeds in Christus ingesluit: Ons het saam met Hom gesterf en is saam met Hom opgewek in 'n nuwe lewe (Romeine 6:4-11). U het ons reeds nuwe mense gemaak in wie die Gees van Christus leef (2 Korintiërs 5:17-18a; Romeine 8:9). Omdat ons in Jesus is en Hy in ons, deel ons in sý heiligheid en geregtigheid (1 Korintiërs 1:30). Daar is reeds vrede tussen U en ons (Romeine 5:1). Ons het reeds vrye toegang tot u heiligdom (Hebreërs 10:19-20). Ons sit reeds saam met Christus in die hemel (Efesiërs 2:6). Ons deel reeds in sy heerlikheid (Johannes 17:22; Romeine 8:29-30).
Ons proklameer: Almal wat hoor wat U rééds gedoen het, móét glo (Romeine 10:17).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 13Verlossing en bevryding

Ons proklameer: Die redding van alle mense is u wil, Vader. Dit is wat u Woord ons leer (Matteus 18:14; 1 Timoteus 2:4 en 2 Petrus 3:9). Ons proklameer: "Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Jesus Christus wat Homself as 'n losprys vir ons almal gegee het..." (1 Timoteus 2:5). Ons proklameer ook: "Daar is geen ander Naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie" (Handelinge 4:12). Net die Naam van Jesus! Ons proklameer verder: Jesus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie (Johannes 14:6). Hy het "gekom om te soek en te red wat verlore is" (Lukas 19:10).
Daarom vra ons dat U, Heilige Gees, mense se oë sal oopmaak om te sien dat Jesus die Verlosser is. Namens God roep ons die platteland op om hulle te bekeer: mans en vroue; ouers en kinders; werkgewers en werknemers (Handelinge 17:30-31; 2 Korintiërs 5:20-21).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 14Verlossing en bevryding

Vader, in Jesaja 1:10-17 veroordeel U godsdienstige rituele wat uitgevoer word terwyl onreg oral gepleeg word. In Amos 5:21-24 sê U dat u godsdienstige feeste, offers en musiek verafsku as dit nie deur reg en geregtigheid ondersteun word nie. Jesus, U het die godsdienstige leiers van u tyd skerp veroordeel omdat hulle net godsdienstig was, sonder om God lief te hê en te doen wat Hy sê (Matteus 23:13-36). Paulus waarsku ons teen mense wat die uiterlike skyn van godsdiens het, maar nie die krag van die godsdiens ken nie (2 Timoteus 3:2-5). Verlos ons van vormgodsdiens. Laat ons in 'n intieme verhouding met U leef. Laat ons liefde vir U sigbaar word in ons gehoorsaamheid aan U (Johannes 14:15, 21-24, 31; 1 Johannes 5:2-3).
Ons proklameer: Godsdiens kan niemand red nie. Almal moet in U, Jesus Christus glo en U as Verlosser en Koning aanvaar (Johannes 6:2-29; Handelinge 16:30-31).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 15Verlossing en bevryding

Die apostel Johannes skryf: "Die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak" (1 Johannes 3:8). Lukas getuig dat God U met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. U het oral goeie dinge aan mense gedoen en almal genees wat deur die duiwel "verdruk" is (vgl. Handelinge 10:38). Lukas sê dat U dié mag en gesag waarmee U dit gedoen het, aan u dissipels gegee het om ook duiwels uit te dryf en siektes te genees (Lukas 9:1-2).
Here Jesus, hou asseblief aan om deur u kinders duiwels uit te dryf en siekes te genees. Laat u kinders met U saamwerk om die werk van die duiwel op die platteland te vernietig. Verlos álle plase en die platteland van álle okkultiese en demoniese aktiwiteite, álle afgodery en toordery, die raadpleeg van dooies en die bring van offers. In die Naam van Jesus breek ons die mag en houvas wat die duiwel deur dié dinge op die platteland het. (Vgl. Deuteronomium 18:9-14.)
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 16Kinders

Hemelse Vader, ons plaaskinders verkeer in groot nood. Plaasskole is toegemaak en kinders moet van jongs af dorp of stad toe gaan. Goeie beheer en dissipline in koshuise is dikwels 'n groot uitdaging. Daar is baie werkloosheid en armoede, en privaatverblyf is baie duur. Dikwels word min van dié losiesgeld gebruik om behoorlik vir die kinders te sorg.
Ons bring al ons plaaskinders na U toe. Jesus, U het vir ons gewys hoe lief U hulle het. Op grond van u Woord proklameer ons dat dit die Vader se wil is dat elkeen van hierdie kinders gered word (vgl. Matteus 18:14).
Ons is dankbaar vir die kos wat ons nou gaan geniet. Daarom wil ons graag betrokke raak by die beskerming, goeie versorging, kwaliteit-onderrig en suiwer verkondiging van u Woord aan ál ons plaas- en plattelandse kinders.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 17Kinders

Hemelse Vader, ons is geseënd omdat ons ouers, familie en vriende het wat getrou vir ons bid. Ons bid ook gereeld vir ons kinders. Ons noem hulle name voor u Troon en spreek seënbedes oor hulle uit. Ons gee vir hulle profetiese woorde wat opbou, bemoedig en vertroos (Numeri 6:22-27; 1 Korintiërs 14:3). Ons bid vir hulle beskerming en voorspoed. Maar die meeste kinders geniet nie hierdie voorreg nie.
Nou bid ons vir die miljoene mense, veral die kinders op ons plase en in die platteland, wie se name nog nooit deur iemand voor u Troon van genade genoem is nie. Ruk hulle asseblief uit die mag van die duisternis. Plaas hulle onder die Koningsheerskappy van u geliefde Seun sodat Hy hulle sonde kan vergewe en in liefde oor hulle kan heers (Kolossense 1:13-14).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 18Kinders

In Rigters 2:10 lees ons dat al die mense wat in die tyd van Josua geleef het, gesterf het. "En die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie." Here, ons besef dat die evangelie met woord en daad van een geslag na die volgende oorgedra moet word. Indien dit nie gebeur nie, sal die volgende geslag U nie ken en vertrou nie. Hulle sal aan U ongehoorsaam wees en eindelose ellende oor hulleself bring.
Daarom vra ons dat die evangelie só aan ons kinders en hulle kinders oorgedra sal word, dat selfs die kinders wat nog gebore sal word, U sal ken, liefhê, vertrou en dien. Here, mag ons nooit die oorsaak wees dat die volgende geslag weer heidene word nie (vgl. Psalm 78:3-8).
Ons proklameer: Dit is u wil dat elke nuwe geslag U sal ken en dien, vir hulle eie beswil en ook die beswil van hulle kinders (Jeremia 32:39).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 19Kinders

Vader, U het Afrika geseën met baie kinders. Afrika se potensiaal lê in sy kinders en jongmense. Daarom bid ons vir hulle redding en verlossing. Bevry hulle asseblief van die verdrukking van Satan (Handelinge 10:38). Verlos hulle van heksery, toordery, generasievloeke, raadpleging van dooies, watergeeste en vals godsdienste (Eksodus 20:1-6; Deuteronomium 18:9-14).
Vader, die jongmense van Afrika het goeie onderrig en opleiding dringend nodig. Voorsien asseblief Godvresende onderwysers wat deur u Heilige Gees gesalf en toegerus is om hulle te leer en in u waarheid te onderrig (Eksodus 35:30 – 36:1; Johannes 8:31-32; 2 Timoteus 2:2).
Ons proklameer: U sal die skuld en skaamte van Afrika wegneem. Afrika se mense sal haar potensiaal tot sy reg laat kom, tot eer van u Naam. Afrika sal 'n lig vir die nasies wees.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 20Kinders

In Matteus 18 sê U dat elkeen wat 'n kind van U afvallig maak, baie swaar gestraf sal word. Daarom vra ons dat niks en niemand kinders sal verhinder om na U, Here Jesus te kom nie (Markus 10:14): Nie ouers, vriende, bendes of mense wat dwelms verkoop of kinders verkrag nie; Nie tradisies wat in stryd met u Woord is nie; Nie onderwysers of leerplanne wat vals ideologieë verkondig nie; Nie kerke en dwaalleraars wat misleidende geeste navolg en leerstellings van duiwels aanhang nie (1 Timoteus 4:1-2). Laat u vloek elkeen tref wat die evangelie van Christus verdraai of 'n ander evangelie aan ons kinders verkondig (Galasiërs 1:6-9). Mag u vyande voor U vlug. Mag hulle soos rook wegwaai in die wind. Mag hulle in u teenwoordigheid wegsmelt soos was in 'n vuur (vgl. Psalm 68:1-4). Beskerm asseblief ons kinders en red hulle - want dít is u wil (Matteus 18:14).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 21Die produsente

Vader, ons het kos nodig om te lewe. U het ons só geskep. U het aan Adam en Eva kos voorsien (Genesis 1:29) en later ook aan Noag en sy familie (Genesis 9:3-4). U het belowe: "Solank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie" (Genesis 8:22).
U Woord leer ons dat alle produsente gewillig en bekwaam moet wees om landbou in ooreenstemming te bring met u wil en plan. U doel vir landbou is:
- om alle mense altyd te voed
- met 'n groot verskeidenheid goeie, smaaklike kos
- wat voldoende is vir groei, energie, genesing en normale funksionering,
- maar ook meer as genoeg om fees te vier
- sodat almal daagliks u goedheid kan sien en proe (Psalm 34:9) en U vir die goeie dinge in die lewe kan dank (Prediker 2:24-26).
Maak asseblief alle produsente gewillig en bekwaam om U wil te doen (Filippense 2:13).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 22Die produsente

Vader, weerhou ons produsente van oormatige drankgebruik en losbandigheid. Vul hulle met u Heilige Gees. Laat hulle met hulle hele hart tot u eer sing. Maak hulle dankbare mense wat U, hulle Vader, altyd oor alles dank in die Naam van ons Here Jesus Christus (Efesiërs 5:18-19).
Mag die Heilige Gees aan hulle die kundigheid, vaardigheid en integriteit gee om:
- goeie rentmeesters van u grond te wees;
- landbou te dien met goeie oplossings vir al die uiteenlopende probleme en uitdagings in dié sektor;
- hulle te beywer vir eenheid en samewerking in die landbou;
- reg en geregtigheid teenoor almal in die landbou na te streef: ryk en arm; kommersiële en kleinboere; werkgewers en werknemers; mans en vroue; ouers en kinders;
- voedselsekerheid, veiligheid, verskeidenheid, kwaliteit en bekostigbaarheid te verseker in so verre dit van hulle afhang.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 23Die produsente

Vader, ons bid u wil vir produsente. Ons vra in Jesus se Naam wat Ú wil gee. Dankie dat U ons verhoor.
Ons vra dat hulle sal besef dat die werk wat hulle elke dag doen:
- 'n manier is waarop hulle U aanbid (Work is worship);
- 'n besondere roeping van U is;
- 'n voorreg is wat hulle met passie moet uitleef;
- 'n geleentheid is om tasbaar uitdrukking te gee aan hulle liefde vir mense deur die goeie kwaliteit diens en produkte wat hulle aanbied (Work is love made visible);
- 'n geleentheid is om die kwaad in landbou en die voedselwaardeketting met die goeie te oorwin (Romeine 12:21);
- 'n geleentheid is om u Koninkryk in die landbou sigbaar te maak en Jesus se Koningsheerskappy in die landbou uit te brei.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 24Die produsente

Vader, u Woord is duidelik oor die grond waarop ons leef en boer. Vandag wil ons oor vier waarhede bid. Mag elke produsent dit verstaan en mag dit hulle hantering van hulle grond, en hulle lewe op die grond, tot u eer verander:
- Ons leef en boer op u grond (Levitikus 25:23; Psalm 24:1).
- U het alle grond deur die bloed van Christus met Uself versoen (Kolossense 1:15-23).
- Christus is die Koning. Hy het volle seggenskap oor alle grond (Efesiërs 1:18-23).
- Grond is nie dood nie. Dit lewe en reageer op die gedrag van die mense wat daarop woon en werk (Deuteronomium 24:4; 28:23; 29:22-28; Psalm 107:33-34; Hosea 4:1-3 en vele meer).
Here, mag alle produsente onthou dat daar 'n besondere band tussen U en hulle grond is (vgl. Deuteronomium 11:11-12). Mag hulle nooit die vermoë van die grond om alles te voorsien wat ons nodig het, vernietig deur op 'n goddelose manier daarop te leef en te boer nie.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 25Die produsente

Vader, dankie dat ons vandag genoeg kos het om te eet. Dankie dat U aan boere die wysheid en kennis gee om die regte ding op die regte tyd en die regte manier te doen. Kennis wat van U af kom, is wonderbaar en dit bring voorspoed (vgl. Jesaja 28:23-29). Ons sien, proe en ervaar dat U goed is (vgl. Psalm 34:9). Baie, baie dankie!
Ons bid vir alle landbouers. Gee asseblief aan hulle die wysheid en kennis om 'n groot verskeidenheid goeie en gesonde kos teen bekostigbare pryse te produseer. Leer hulle hoe om vry en onafhanklik te bly van stelsels waar alles net om geld draai; waar groter winste en hoër produksie nagejaag word ten koste van goeie voedingswaarde.
Elke keer nadat U iets geskep het, het U gesê: Dit is goed (Genesis 1). Mag U dit ook sê van die kwaliteit van alle kos wat boere produseer.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 26Die produsente

Almagtige HERE, die profeet Jesaja het gesê dat dit U is wat aan boere die wysheid, insig en kennis gee om die regte ding op die regte tyd en op die regte manier te doen. U is 'n goeie Leermeester. U praat oor geestelike sake én gee praktiese en wyse raad. Alles verloop voorspoedig ás mense doen wat U hulle leer (vgl. Psalm 1:1-3; Jesaja 28:23-29).
Ons bid dat alle boere by U sal leer en sal hoor wat U deur u Gees, u Woord en betroubare medegelowiges vir hulle sê. Laat almal U gehoorsaam.
Mag die grond wat boere bewerk nooit 'n klag teen hulle inbring nie (Job 31:38-40). Mag die skepping juig omdat u kinders weer oor die aarde heers (Romeine 8:20-21). Mag elke stuk grond, elke land en elke boord oorvloed voortbring sodat elke produsent genoeg sal hê om sy roeping tot u eer uit te leef (Deuteronomium 28:1-14).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 27Die produsente

Vader, vandag seën ons alle produsente met dié woorde waarmee Moses die stam van Josef geseën het (vgl. Deuteronomium 33:13-17). Tydens hongersnood het U Josef gebruik om 'n hele volk in die lewe te hou (Genesis 50:20).
Mag jou grond deur die Here geseën word:
- met die beste uit die hemel, met dou (en reën), en
- met die beste uit die water diep onder die grond;
- met die beste wat deur die son gegee kan word en
- met die beste wat deur elke maand opgelewer kan word;
- met die beste uit die gryse berge en
- met die beste uit die ou-ou heuwels;
- met die beste uit die aarde en wat daarop is.
Here, mag U wat vanuit 'n doringbos aan Moses sy roeping en opdrag gegee het, ook gedurig met produsente praat en u wil aan hulle bekend maak. Uit dankbaarheid seën ons hulle met roepingsvervulling, intimiteit met U, en met finansiële vryheid.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 28Landbouleiers

Here ons God, U het alles deur Christus geskep. Hy hou nou nog alles deur sy magswoord in stand (Hebreërs 1:1-3). Hy ken en verstaan die skepping. Daarom begeer ons dat Hy ín en óór landbou moet regeer. Sý leierskap bring vrede en voorspoed. Sý leierskap verseker reg en geregtigheid teenoor alle mense (Jesaja 9:6). Hý het nie vasgeklou aan sy hoë posisie in die hemel nie. Ter wille van ons het Hy 'n mens net soos ons geword. Maar Hý het nooit gesondig nie (Hebreërs 2:14-18; 4:15). Hý het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer (Markus 10:42-45). Hy het die mag en gesag wat Adam weggegee het, van Satan afgeneem en weer aan ons teruggegee (Lukas 4:6; 9:1-2; 10:17:19).
Ons proklameer: Jesus is Koning! Hy is ons Leier. Hy het ons bemagtig om God weer op aarde te verteenwoordig en namens Hom oor die skepping te heers.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 29Landbouleiers

Here Jesus, U is vir ons dié voorbeeld van goeie leierskap. U het nie aan Uself gedink nie. U het gedink aan dít wat ons nodig gehad het. U het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. U het met u lewe betaal om ons los te koop van die vloek waaronder ons geleef en gebore het (Deuteronomium 28:15-68; Romeine 15:1-3; Filippense 2:3-4; Markus 10:45). U het die vloek op Uself geneem. U was bereid om 'n vervloekte te word, sodat ons geseënd kan wees (Galasiërs 3:13-14). U het alles wat U deur u volkome gehoorsaamheid aan die Vader verdien het (die seën) vir ons gegee in ruil vir alles wat ons deur ons ongehoorsaamheid verdien het (die vloek).
Wees U asseblief ons leier. Seën ons met leiers soos Uself: Diensknegleiers wat die platteland se probleme oplos, en die lewe vir almal in die boerderygemeenskap beter maak.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 30Landbouleiers

Here Jesus, ons aanbid U as ons Koning. U regeer in die hemel en op die aarde. Alle mag en gesag behoort aan U: U is sterker as mense; Sterker as alle demoniese magte en sterker as alle kragte wat in hierdie wêreld aan die werk is – nou en in die toekoms. U sal regeer totdat al u vyande aan U onderwerp is. Halleluja, ons loof U! (Efesiërs 1:19-23; 1 Korintiërs 15:25; Hebreërs 10:13). Dankie vir die voorreg om in hierdie tyd te leef. Die tyd van u Koninkryk. Die tyd waarin U, ons Koning, reeds op die troon sit.
Ons proklameer: Jesus Christus heers oor die landbou. Sy heerskappy sal gedurig uitbrei. Hy sal oor meer mense en op meer plekke heers! Hy sal sy Koninkryk vir altyd deur reg en geregtigheid in stand hou. "Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg" (vgl. Jesaja 9:6; Matteus 6:10).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 31Landbouleiers

Ons aanbid U, Here Jesus. U is die Koning van Landbou. U Koninkryk kom in die Landbou. Al hoe meer landbouers erken en aanvaar dat U ons Verlosser én ons Koning is.
U troon is gebou op reg en geregtigheid. Die fondasie van u regering is reg en geregtigheid (Psalm 96:13; 97:2; 98:9 en 99:4). "U sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg" (Jesaja 9:6). U bewys liefde, reg en geregtigheid op aarde. Dít is wat U wil hê (Jeremia 9:23-24; Amos 5:21-24).
Daarom proklameer ons: Op elke plaas en in elke plattelandse gemeenskap sál onreg uitgeroei word. Liefde, reg en geregtigheid sál sigbaar word. U wil sál geskied! U Koninkryk wat deur reg en geregtigheid gekenmerk word, sál kom.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 32Landbouleiers

Vader, Dawid het al as jong seun sy vader se skape met integriteit (opregte hart) versorg. Hy het hulle met vaardigheid beskerm. Hy was getrou oor min. Daarom het U hom geroep om u hele volk te lei. Dít het hy met dieselfde integriteit en vaardigheid gedoen as waarmee hy skape opgepas het (Psalm 78:70-72).
Ons proklameer: Dit is u wil dat landbou óók deur mense met integriteit en vaardigheid gelei word.
Verlos ons asseblief van onbetroubare, onkundige en onbekwame leiers. Seën ons met leiers wie se hart onverdeeld op U gerig is. Leiers wat begeer dat ú Woord, ú wil en ú plan in landbou verwesenlik word. Help en ondersteun hulle om te doen wat U gedoen wil hê (2 Kronieke 16:9).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 33Landbouleiers

Here, in Eksodus 18:17-23 lees ons van die goeie raad wat Moses se skoonpa aan hom gegee het. Hy het gesê dat een mens alleen nie 'n groot volk effektief kan regeer, leer en lei nie. Leiers op verskillende vlakke is nodig. Maar hy het gesê almal moet die volgende karaktereienskappe hê:
- álmal moet bekwaam wees;
- álmal moet U dien;
- álmal moet die waarheid liefhê, en
- nie hulle eie voordeel soek nie.
Here Jesus, seën ons asseblief met sulke leiers in die landbou en op die platteland. Ons het hulle oral nodig: in elke kantoor van die Departement van Landbou; op elke vlak van georganiseerde landbou; in elke dorp en munisipaliteit en op elke plaas. Dít ís u wil vir ons. Laat u wil op aarde en in die landbou geskied, soos in die hemel.
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 34 TodayLandbouleiers

Vader, dankie dat u Gees ons deur die Woord leer hoe om oor leierskap te dink en hoe om vir ons leiers te bid.
In Romeine 13:1-8 sê U dat die owerheid twee verantwoordelikhede het: Hulle moet dié wat goed doen, prys, maar dié wat kwaad doen, straf. Ons bid dat hulle wat in landbou oor ons regeer, presies dít sal doen. Bewaar hulle van die versoeking om, soos die wêreld, sleg goed te noem en goed sleg; om te maak asof lig duisternis is en duisternis lig; om bitter soet te noem en soet bitter (Jesaja 5:20). Gee aan ons leiers die fyn onderskeiding tussen wat goed en wat sleg is. Wat reg en wat verkeerd is in u oë. Laat hulle erkenning gee aan boere wat doen wat reg is. Laat hulle dié boere op meriete ondersteun en help. Mag hulle nooit deur die kwaad in landbou en in die voedselwaardeketting oorwin word nie. Maar laat hulle die kwaad met die goeie oorwin (Romeine 12:21).
Bid nou jou eie tafelgebed ...
Day 35Landbouleiers

Here ons God, die kennis en wysheid om die regte ding op die regte manier op die regte tyd te doen, kom van U af. Dit is kosbaar en laat alles voorspoedig verloop (Jesaja 28:23-29). Mag landbou- en ander leiers op die platteland 'n intieme verhouding met U hê. Gebruik hulle lewenservaring. Gee ook vir hulle 'n nuwe openbaring hoe om vandag die regte ding op die regte manier te doen. Gee asseblief vir ons leiers wat nie bang is vir verandering nie. Leiers wat nie kleef aan metodes, stelsels en sisteme wat lankal uitgedien is nie.
Ons proklameer: U wil aan elke landbouer en elke leier die wysheid en kennis gee hoe om die regte ding op die regte manier en op die regte tyd te doen. U wil hê alles moet reg en voorspoedig loop. Daarom sál leiers leer om fyn te luister en u stem mooi te onderskei.
Bid nou jou eie tafelgebed ...